AFSPRAKE MET PERSONEEL EN OUER WANGEDRAG
21 Aug 2024
Geagte Loffieouer,
Die afgelope tyd is daar ʼn toename van ouers wat by die skool opdaag sonder om enige afspraak te maak en aandring om die hoof, adjunkhoof, ʼn departementshoof of ʼn personeellid te sien.
As gevolg van afsprake, departementele vergaderings en -opleiding, asook akademiese- of buitemuurse verantwoordelikhede, is dit ongelukkig nie moontlik vir hierdie persone om op aanvraag beskikbaar te wees nie. Dit veroorsaak dat ouers ongelukkig raak en voel of die skool nie omgee nie. Ouers word egter versoek om ʼn epos te stuur indien u enige terugvoer benodig of indien u ʼn afspraak wil maak.
Ons verwys na die Loffienuus wat maandeliks uitgestuur word, waarin ons verduidelik hoe die aanmelding van probleme werk. Ons wil u wel aanmoedig, indien leerders ʼn probleem ondervind, dat die betrokke leerder dit eerstens by die klas- of graadvoog, of by ʼn departementshoof sal rapporteer, sodat die probleem/insident so gou moontlik ondersoek kan word. Ouers wat net een kant van die saak hoor, is nie objektief nie en is dadelik emosioneel oor ʼn insident. Antwoorde en terugvoer sal eers beskikbaar gemaak word wanneer ʼn ondersoek afgehandel is.
Daar is ook ouers wat personeel in die ingangsportaal, buite in die parkeerarea of skoolgronde konfronteer, met betrekking tot ʼn probleem of ʼn insident wat by die skool gebeur het. Hierdie optrede is onaanvaarbaar en sal ongelukkig nie toegelaat word nie. Die personeellid sal u nie te woord kan staan nie. Ons versoek dat die betrokke ouer ʼn afspraak maak en op ʼn geleë tyd en plek die saak bespreek. Verder versoek ons dat ouers hulself nie skuldig maak aan swak en onaanvaarbare gedrag indien ʼn personeellid nie ʼn ouer kan sien of nie beskikbaar is om ʼn ouer te woord te staan nie.
Ouers kan ook nie buite ʼn personeellid se klas wag om met ʼn personeellid te praat nie. Personeel het hulle eie beplanning vir die dag wat afgehandel moet word, en kan nie by hulle verantwoordelikhede uitkom as ʼn ouer by die klas wag nie. Dus versoek ons weer, ouers moet asseblief ʼn afspraak maak om ʼn personeellid te sien.
WhatsApp-groepe: Enige navrae via WhatsApp-groepe sal slegs tot en met 16:00 indien moontlik geantwoord word. Ouers moet in ag neem dat personeel na skool op die sportveld is of ander verantwoordelikhede het. Personeel sal enige navrae binne 24 uur antwoord. Personeel gaan ook nie vir ouers na 16:00 terug antwoord as hulle persoonlik gekontak word nie. Ons gun personeel hulle privaatheid en versoek dat ouers personeel se familietyd en naweke ook so respekteer.
Die volgende is vir die bestuur en beheerliggaam onaanvaarbare gedrag en sal nie geduld of ondersteun word nie. ʼn Ouer wat hom/haarself skuldig maak aan die volgende, sal verbied word om in enige toekomstige gesprek met enige personeellid te verkeer. Hierdie tipe ouer sal ook verbied kan word om enige skoolaktiwiteite of oueraande by te woon. Indien nodig sal regsadvies ingewin word om aksie teen so ʼn ouer te neem.
- Ouers wat personeel, buite skoolure op ʼn ongeleë plek en tyd inwag om ʼn probleem te bespreek.
- Ouers wat swak, dreigend en/of onaanvaarbare gedrag teenoor personeel toon.
- Ouers wat disrespekvol of dreigend optree teenoor personeel tydens ontmoetings en gesprekke.
- Ouers wat hulle stem verhef en aanvallend optree teenoor ander ouers, personeel of leerders.
- Ouers wat tydens of na skoolure, onder die invloed van ʼn gewoontevormende middel is, en dan die skoolgrond betree of die skoolgebou binnekom. (Dit sluit ook alle skoolaktiwiteite by Gelofte en ander skole in.)
- Geen ouer het die reg om enige ander ouer se kind te konfronteer en tereg te wys, met betrekking tot ʼn probleem of insident wat aan die skool gerapporteer is nie. Die skool is in beheer van die dissiplinering van leerders.
Byvoorbaat dankie vir u ondersteuning.
Vriendelike groete
MS Martin
Skoolhoof
R Botha
BL Voorsitter