1 April 2020

  1. Daar bestaan tans baie onsekerheid binne die onderwyssektor.

    Ons weet nie wanneer die skole gaan heropen nie, ons weet nie wat die datums van die volgende kwartale gaan wees nie, ons weet nie hoe lank dit gaan vat voordat alles terugkeer na normaal nie. Ons weet wel dat die res van 2020 ʼn ontwrigte skooljaar gaan wees en dat ons gereed moet maak daarvoor. Elke ouer, leerder en personeellid het ʼn rol om te speel om seker te maak dat hierdie jaar suksesvol afgehandel sal word. Ons sal u so gou as moontlik in kennis stel sodra inligting bekend gemaak word.

     

  2. Ons versoek asseblief dat ouers op datum bly met skoolgelde.

    Die skool het nog steeds maandelikse uitgawes en salarisse wat betaal moet word. Ons vra u ondersteuning in hierdie verband. Baie dankie vir elke ouer wat wel reeds betalings gemaak het. Ons waardeer dit opreg.

     

  3. Personeel is tans by hulle huise besig om vir leerders die nodige werk te gee om op datum te bly met die kurrikulum.

    Ons maak gebruik van “Whatsapp-groepe” en D6 Communicator om inligting te deel. Dit is elke onderwyser by Gelofte se hoofdoel om seker te maak dat leerders bevoeg genoeg sal wees om hulle huidige graad te slaag.

     

  4. Hierdie is onsekere tye en ons wil nie ouers en leerders onder meer spanning sit nie.

    Ons versoek dat ouers op ‘n stresvrye wyse aan hul kind/ers by die huis hulp sal verleen met skoolwerk wat gedoen moet word. Ons verwag nie van ouers om leerders te “Tuisonderrig” nie, maar tog u kind aktief besig te hou met die hersiening/skoolwerk wat gegee word. Sit sekere tye van die dag hiervoor uit soos dit u en u kind pas. Wat egter belangrik is, is dat leerders self gedissiplineerd moet wees en ook moet verstaan dat hulle nie agter kan raak met die werk wat gegee word nie. Doen ook gedurig hersiening om te verseker dat Kwartaal 1 se werk nie vergeet word nie.

     

  5. Gebruik hierdie tyd by u huis as familietyd.

    Speel bordspeletjies, bak koekies of gee vir hulle verantwoordelikhede met tuiswerkies. Hulle is ook verantwoordelik om te help om die huis skoon en netjies te hou. Probeer u kind se skermtyd beperk. Gee vir hulle struktuur en roetine in die huis.

     

Bly positief en sterkte aan elke ouer en leerder in hierdie tyd.

Groete

Gelofte Hoof Handtekening

No Comment

Comments are closed.