8 April 2020

Gelofte Skool se personeel en beheerliggaam bly toegewyd om kwaliteit onderwys te handhaaf en te bevorder en om alles in ons vermoë te doen om die hoogste moontlike standaard van onderwys te verseker. Ten spyte van die wrede werklikheid waarin ons en ander skole hul tans bevind, bly ons skool se hoofdoel steeds akademie en om gehalte-onderwys aan elke leerder te bied.

Die afgelope tyd was onderwysers druk besig by die huis met voorbereiding, werksopdragte opstel, lesaanbiedinge op verskeie sosiale platforms en memorandums opstel vir leerders wat by die huis werk doen.

Die feit dat personeel van ʼn verskeidenheid sosiale media platforms gebruik maak, beteken dat onderwysers die beste wil gee vir die leerders op die manier waarmee hulle die gemaklikste voel. Ons kan nie van ʼn personeellid verwag om iets te doen wat nie haalbaar is of om aan te hou sukkel met iets wat die kwaliteit van onderrig verswak nie. Nie alle personeel het die tegnologie of data tot hulle beskikking nie.

Abnormale omstandighede vra abnormale oplossings. Die opdrag aan onderwysers was om leerders in hulle grade en vakgebiede tot die beste van hulle vermoë te help en om inligting oor te dra wat vir die onderwyser en vir die leerder haalbaar is.

Ons onderwysers probeer (sover moontlik) elke ouer akkommodeer met die tegnologie wat tot die ouer se beskikking is. Sekere grade het groot groepe leerders wat geakkommodeer moet word en nie almal het dieselfde tegnologie tot hulle beskikking nie.

Daar is verskeie webwerwe beskikbaar waar leerders addisionele stimulering of hersieningsmateriaal kan aflaai indien ouers of leerders opsoek is na ekstra werk.

Soos in ʼn vorige Loffieflits genoem, sal ouers dadelik ingelig word rakende die heropeningsdatum, kwartaaldatums en alle ander planne wat in plek moet kom wanneer die skool weer begin. Ons wag vir kommunikasie vanaf die departement.

Geseënde Paasfees

aan elkeen van ons ouers en leerders.

Mag u en u gesin die vrede, liefde en geluk in hierdie oorwinning ervaar.

JOHANNES 3:16
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

Baie dankie vir u begrip en ondersteuning in hierdie tyd.
Bly positief en sterkte aan elke ouer en leerder.

Groete

Gelofte Hoof Handtekening

No Comment

Comments are closed.