Baie dankie vir die pragtige boodskappe oor die afgelope aantal dae. Dit word opreg waardeer.

Na amper 21 jaar aan die stuur van hierdie pragtige skool is dit met hartseer dat ek afskeid neem van die Loffies, ouers en personeel.

Ek wil langs hierdie weg dankie sê aan elke Loffie wat my lewe verryk het. Dankie vir sovele hoogtepunte op sport- en kultuurgebied asook op akademiese gebied. Dankie vir die vreugde en trots wat ons kon ervaar deur Loffies wat opgeneem is in verteenwoordigende spanne en wat aangewys is as provinsiale en nasionale wenners op kultuurgebied. Dankie vir die vreugde wat ons ervaar het deur vele oorwinnings van ons sportspanne en kultuuraktiwiteite. Dankie vir Loffies wat deur ure en ure se toewyding aangewys is as van die top akademiese presteerders in die provinsie en selfs op nasionale vlak. Dankie dat julle entoesiasties deelgeneem het aan geleenthede soos deurnag pretlope, kaskar, stoephardloop, nagskool, sokkies, geesvanggeleenthede, pretdae, serriekompetisies, “Nou gaan ons braai”, geleenthede waartydens julle lawwe klere moes aantrek, entrepreneursdae, ens. (Veral wanneer julle gedink het dit is lawwe idees) Julle het my male sonder tal trots gemaak om deel te wees van die Loffie familie. Dankie in die besonder vir die liefde en vriendelikheid wat ek daagliks ervaar het. Julle het gereeld my dag opgekikker deur bloot net daar te wees, vriendelik te groet en om te gee. Ek sal julle geweldig baie mis.

Baie dankie aan elke ouer wat die skool onvoorwaardelik ondersteun het. Daar is sovele voorbeelde van ouers wat altyd meer as bereid was om die ekstra myl te loop in belang van die Loffies. Ek dink hier onder andere aan ouers wat onvermoeid betrokke was by die afrigting van sport en kultuur, wat uit hul pad gegaan het om fondse te help in vir die skool, wat betrokke was by die verfraaiing van ons terrein, wat hulself afgesloof het om ‘n sukses te maak van funksies by die skool, wat gedien het op komitees en die beheerliggaam om te help bou aan die skool, wat onwrikbaar glo in die skool en die skool by elke moontlike geleentheid bemark, wat ten spyte van hul eie moeilike omstandighede hul sente omdraai om hul finansiële verpligting teenoor die skool na te kom, wat waardes by hul kinders vestig en ouers wat vir vele van ons dien as voorbeeld van dienslewering sonder vergoeding. Dankie dat u uit u pad gegaan het om my werk soveel makliker te maak. Dankie aan elke ouer wat die skool ondersteun het deur oop hande en harte. U ondersteuning maak ‘n reuse verskil en maak ons dagtaak soveel makliker.

‘n Besondere woord van dank aan elke personeellid wat help bou het aan die skool en Loffies gevorm het sodat hulle met selfvertroue hul plek kan inneem in die volwasse wêreld. Gelofte was oor baie dekades bevoorreg om van die heel beste opvoeders in diens te hê. Dankie vir ure spandeer aan voorbereiding, beplanning, nasienwerk, ens. om te verseker dat elke leerder, aan u sorg toevertrou, net die beste kry. Dankie aan elke opvoeder wat veel meer gedoen het as om bloot kennis oor te dra. Dankie dat u ons kinders met liefde, deernis en respek hanteer het en dat u dikwels op persoonlike vlak baie opgeoffer het in hul belang. Daar is vele voorbeelde van Oud-Loffies wat lewende bewyse is dat die saadjies wat u geplant en versorg het, vrug dra. Dankie dat u die skool vir baie Loffies ‘n veilige hawe gemaak het. In sommige gevalle was u betrokkenheid in hul lewens die enigste liefde wat hulle ervaar het. Baie dankie aan elke personeellid wat deel vorm van die ondersteuningspan by die skool. Sonder u harde werk kan ons nie effektief funksioneer nie. Dankie dat u daagliks u werk met liefde en ‘n glimlag verrig al is daar soms min tekens van dankbaarheid vir u toewyding. Dankie aan ons toegewyde span op die terrein wat verseker dat ons in ‘n pragtige, netjiese en veilige omgewing kan werk. Ons waardeer jul harde werk wat dikwels onder moeilike omstandighede verrig moet word. Dankie aan elke personeellid wat uitnemende diens gelewer het in belang van ons kinders.

Alhoewel 14 Junie my laaste werksdag is by die skool het die KZNDO my ingelig dat ek die skoolhoof bly tot 30 Junie. Vanuit ‘n praktiese oogpunt beskou sal dit egter beter wees as u na die aanvang van die skoolvakansie eerder met Mnr. Martin skakel by gsadjunk1@gelofte.co.za.

Aan elke personeellid, ouer en Loffie: Dankie in die besonder vir die mate waarin julle my taak vergemaklik het deur julle toewyding en ondersteuning. Ek was bevoorreg om deel van so ‘n span te kon wees.

Waar ‘n nuwe fase nou aanbreek, het ek geen twyfel dat die skool van krag tot krag sal gaan in die toekoms en sal voortgaan om uit te blink op elke moontlike terrein. Mnr. Misha Martin sal waarneem as hoof tot met die aanstelling van die nuwe hoof, hopelik vroeg in 2020. Ek wens hom alles van die beste toe en weet dat hy dieselfde ondersteuning sal geniet en liefde sal ervaar van Loffies, personeel en ouers as wat ek bevoorreg was om te ervaar.

Groete

Danie Strydom

No Comment

Comments are closed.